Beskermende helm vir motorfietsryers
Jy mag nie ’n motorfiets ry of ’n passasier op ’n motorfiets, motordriewiel of motorvierwiel wees, of ’n passasier in die syspan wat aan ’n motorfiets geheg is, op ’n openbare pad nie, tensy ’n beskermende helm gedra word:
- wat spesiaal ontwerp is vir gebruik in verband met sodanige fiets, en
- wat behoorlik pas en waarvan die kenband behoorlik onder die ken vasgemaak is.
Die ryer van ’n motorfiets moet verseker dat enige passasier in of op sodanige fiets wat jonger as 14 jaar is, sodanige beskermende helm dra.
Die ryer en passasier op ’n motorfiets hoef nie ’n beskermende helm te dra nie wanneer die motorfiets toegerus is met ’n veiligheidsgordel wat aan die vereistes van die SABS voldoen, en die enjin nie kan beweeg tensy die bestuurder en passasiers (indien enige) van die motorfiets sodanige veiligheidsgordel dra nie.
Voorruit
Die deursigtige voorruit van ’n ligte motorvoertuig moet:
- die bestuurder voldoende sigbaarheid vir veilige bestuur bied,
- van veiligheidsglas wees, en
- ’n sigbare ligdeurlating van ten minste 70% deur die voorruit hê.
Ruitveërs
’n Ligte en swaar motorvoertuig met ’n voorruit moet met ten minste een ruitveër toegerus wees, en moet, wanneer dit werk, die buitekant van die voorruit reg voor die bestuurder deurlopend, gelykmatig en voldoende afvee.
Uitlaatdempers / Uitlaatpype
’n Motorvoertuig moet toegerus wees met ’n doeltreffende uitlaatdemperstelsel wat moet:
- toelaat dat die uitlaatgas van die enjin deur sodanige demper gestuur word;
- nie uitlaatgas of rook van die enjin afgee wat so dig is dat dit ’n oorlas vir ander padgebruikers veroorsaak of hul sig belemmer nie; of
- in so ’n posisie wees dat olie of ander vlambare vloeistof of materiaal nie daarop kan drup of val nie;
- so onderhou word dat uitlaatgas of rook nie in die bestuurskajuit of passasiersruim van die voertuig inlek nie.
’n Motorvoertuig mag nie op ’n openbare pad gebruik word nie:
- sonder ’n doeltreffende uitlaatdemper;
- tensy die gas van die enjin deur sodanige demper gestuur word;
- indien die uitlaatgas of rook van die enjin so dig is dat dit ’n oorlas vir ander padgebruikers veroorsaak of hul sig belemmer; of
- indien die uitlaatpyp of demper daarvan in so ’n posisie is dat olie of ander vlambare vloeistof of materiaal daarop kan drup of val, of so geplaas en onderhou word dat uitlaatgas of rook in die bestuurskajuit of passasiersruim van die voertuig inlek.
Pass